Skoolkoerant

SAAIERS IS WEL OESTERS!

Geagte Nuusbriefleser. Ek bied aan jou ‘n eenvoudige vraag: lees jy koerant? Indien jy “ja” op hierdie vraag geantwoord het, wil ek jou gelukwens. Jy is deel van ‘n gelese groep wat weet wat in die nuuswêreld aangaan. Jy is selfstandig en verantwoordelik – waardes wat jou miskien al ver op skool en selfs in jou werksplek gebring het. Jy is ongelooflik ingelig, en inligting is die belangrikste bron van kommunikasie op sigself!
Indien jy skaamweg “nee” erken het, wil ek jou uitdaag. Begin klein. Lees jou skoolkoerant, want Jim Fouché het wel sy eie een!
“Ek gaan nou omblaai,” is miskien wat jy nou dink. Moenie. Lees aan, smeek ons as Redaksie. Lees aan!
Die Oester is nie net nog ‘n klein koerantjie waarop die skool sy geld op mors nie; o nee! Die Oester is ‘n leefwyse. Elke joernalis tap bietjies-bietjies sy siel op daardie pragtige nuusblad (wat jy miskien nie eers bestel nie) uit. Elke fotograaf vang ‘n oomblik van JF-wees op sy kamera vas.
JF-wees.
Wat ons almal is. Ons is JF. En JF is ingelig!
JF is nie net ‘n skool nie – dis ‘n ploegland. Die leerders is nie net, wel, leerders nie, maar saaiers. Die wenners is nie net wenners nie, maar oesters! Ons as redaksie lig die saaiers van die groot, menigvuldigende oes in.
Afrikaans suiwer. Afrikaans groot. Afrikaans trots. Dis die Oestervisie!
“Waarom sal ek my tyd en energie spandeer aan ‘n skoolkoerant?” vra jy miskien. Ek antwoord:
Die Oester het in 2003 die prys as beste nuwelingskoolkoerant IN SUID-AFRIKA gewen en EINDIG ALGEHEEL NEGENDE. In 2004 het ons ALGEHEEL DERDE in Volksblad se kompetisie geëindig. Ons het in dieselfde kompetisie in 2011 TWEEDE PLEK NASIONAAL behaal en ‘n jaar later was ons ONDER DIE TOP TIEN. Verlede jaar is ons as NEGENDE IN SUID-AFRIKA en VIERDE IN DIE VRYSTAAT gekroon! Vanjaar was ons sesde in Suid-Afrika en tweede in die Vrystaat.
Hoekom dan nie, geliefde leser?
Ek sluit af: wees ingelig. Wees trots JF. Wees ‘n Oester!

Handré Jankowitz
Redakteur